Boodskap van die Hoof

Laerskool Secunda, ‘n Afrikaansmediumskool, is ‘n dinamiese skool waar ons streef om ons waardes en normes te handhaaf en elke dag uit te leef. 

Ons personeel en ouers is in vennootskap, ons vul mekaar aan in belang van ons kinders. Hierdie vennootskap het ten doel om ‘n geborge opvoedingsomgewing te vestig, waar gebalanseerde kinders se uniekheid en potensiaal erken word.

Die grootste geskenk wat ons aan ‘n kind kan gee, is om sy of haar volle potensiaal te ontwikkel en elke kind se unieke menswees te erken. Dit maak nie saak hoeveel talente my kind ontvang het nie, al wat saak maak is om daardie talente ten volle te ontwikkel.

Laerskool Secunda streef om:

  • ons sterker leerlinge te stimuleer tot uitnemendheid,
  • ons gemiddelde leerlinge tot spogprestasie te motiveer en
  • ons leerlinge met spesiale onderrigbehoeftes tot hul volle potensiaal te laat ontwikkel.

Ons beskik oor goed opgeleide personeellede wat dit moontlik maak om hoë standaarde te handhaaf. Die grondslag wat by ons skool gelê word, getuig van prestasies wat selfs oud-leerlinge in die hoërskool lewer.

Laerskool Secunda (‘n besonderse skool met ‘n pragtige terrein) is die oudste skool in Secunda. Ons is ‘n skool met innoverende denke en moderne onderrigtegnieke. Soos Edmund Burke gesê het: “Die verlede behoort die wegspringplek na die toekoms te wees, nie ‘n hangmat om in te ontspan nie.”

Vir my as hoof van Laerskool Secunda is ‘n oopdeurbeleid ononderhandelbaar. My kantoordeur is altyd oop vir leerlinge, ouers en personeellede. Ouers is welkom om ‘n afspraak met my te maak.

Skole is die medeskrywer aan ons kinders se suksesverhaal. Laerskool Secunda is nie die enigste roete tot sukses nie, LAERSKOOL SECUNDA IS ‘N GEWAARBORGDE ROETE

Vriendelike Secoerie-groete.
Marietha Cole