Tydens Graad RRR word u kleuter reeds voorberei vir hul Graad R jaar.
In graad RRR maak ons gebruik van die Practicaprogram. Dit is ‘n omvattende gids vir individuele stimulasie gedurende die vormingsjare en die sleutel tot die peuter en kleuter se toekoms. As aanvulling gebruik ons Blitsige Breintjies om kunsaktiwiteite en beweging in ons kleuters aan te moedig. Weekliks word ‘n ander tema aangebied en sodoende leer hulle meer oor mense en die omgewing. Elke Vrydag doen ons maats ‘n sensoriese aktiwiteit en daagliks word daar gefokus op fyn motoriese vaardighede in die klassies. Ons RRR maats wat nog ‘n middagslapie nodig het op hierdie ouderdom rus dan ook in die middae.
Monkeynastix, Playball, Landsdiens en Poppietrompoppies word aangebied vir hierdie ouderdomsgroep vir addisionele stimulasie. Dit is vir ons uiters belangrik dat ons maatjies gestimuleer word. Elke peuter ontvang kwartaalliks ‘n verslaggie.
Tydens graad RR word u kleuter informeel voorberei vir graad R.
Ons daaglikse program bestaan uit kreatiewe en opvoedkundige aktiwiteite wat deur die Practicaprogram en Blitsige Breintjies gelei word. Kleuters word deur binne- en buitespel; geletterdheid, gesyferdheid, lewensvaardighede en groot- en kleinspier koördinasie geleer.
Weekliks word ‘n ander tema aangebied om ons maats van hul omgewing, kleure en onderwerpe te leer.
Ander aktiwiteite waaraan ons maats deelneem sluit Monkeynastix, Playball, Musiek, Mini-Landsdiens en Poppietrompoppies in.
Instappies na ons kleuterskool word kwartaalliks gereêl om ons kleintjies aan ‘n verskeidenheid van onderwerpe bloot te stel.
Op ‘n informele en
gestruktureerde wyse word die
kleuters gelei en voorberei vir hul graad 1 jaar.
Ons maak gebruik van die KABV Kurrikulum wat deur die Departement van Onderwys voorgeskryf word. Taal (Afrikaans), Wiskunde en Lewensvaardigheid word daagliks tydens die dagprogram behandel. Assessering vind deurlopend plaas en leerders ontvang elke kwartaal ‘n rapport.
In die middae is daar ook netbal, hokkie, rugby, trompoppies en landsdiens.
Ons het verskeie terapeute wat hulle dienste by ons skool aanbied. Spelterapie, Arbeidsterapie en Spraakterapie word aangebied.
Secoerie Kleuterskool het ‘n kwartaalprogram waar ons aktiwiteite en beplanning aan ons ouers deurgee. Ander aktiwiteite op ons jaarlikse kalender sluit die volgende in: Mini-atletiek, Mini-comrades, Mini-fietsry, Ouma en Oupa dag en ons konsert.
Aan die einde van die jaar sluit ons af met ‘n spoggerige gradeplegtigheid, waar die graad R-kleuters diplomas ontvang.
Graad 1’s by Laerskool Secunda werk, speel en leer ewe hard! Ons weet hoe trots al die graad 1-ouers is wanneer hulle waardevolste skatte op aarde begin blom en groei tot klein mensies wat nie terugstaan vir uitdagings nie. Hier kry hul die geleentheid om aan ‘n groot verskeidenheid aktiwiteite deel te neem in ‘n veilige omgewing waar hulle kan ontwikkel tot gebalanseerde kinders.
Aktiwiteite van redenaars tot fietsryklub, van robotika tot skaak, van leeskompetisies tot vrugteslaai maak, van kuns tot landsdiens en natuurlik netbal tot mini-hokkie, is maar net ‘n paar van die moontlikhede hier by Laerskool Secunda se graad 1’s. Hier is soveel aktiwiteite beskikbaar dat elkeen iets na sy of haar hand en smaak sal vind om te geniet.
‘n Wenresep vir enige suksesverhaal is eerstens samewerking tussen onderwysers en ouers. Laerskool Secunda se graad 1 onderwyseresse werk saam met u as ouer om u kind op te bou, te ondersteun en positief te kry teenoor leer. Goeie kommunikasie tussen onderwysers en ouers is noodsaaklik.
Het u al ooit daaraan gedink dat taal natuurlik ontwikkel, maar dat lees ‘n aangeleerde vaardigheid is? Dit ontwikkel nie natuurlik soos praat nie. Tog is lees uiters belangrik om goed te kan presteer vir die res van jou lewe! Graad 1 lê die fondasie vir jou kind se prestasies.
Ons graad 1’s gebruik ‘n deeglike, sistematiese leesmetode genaamd die siklo-styl om die beginklanke saam te smelt om vlot en vinniger te kan lees.
Met die uitstekende leesmetode word alles sistematies gedek wat nodig is vir lesers van formaat! Begrip van die geskrewe woord, rymwoorde, samesmelting van klanke, sigwoordeskat opbou en nog baie meer word hier by ons vasgelê om ‘n deeglike, gevestigde leesfondasie vir ons kinders te gee.
Graad 2 is die heel lekkerste graad ooit!
Dis vir ons baie belangrik dat ons gelukkige, ontspanne en tevrede leerders sal hê. Ons skep in die klas ‘n rustige atmosfeer waar daar geleentheid is vir leer, verryking en ook ondersteuningshulp.
Graad 2 bou voort op begrippe en vaardighede wat in graad 1 aangeleer is maar die leerders word ook voorberei en toegerus vir graad 3.
In graad 2 word 4 vakke aangebied.
Afrikaans: ‘n Geïntegreerde taalbenadering word gevolg. Klanke, woordbou, diktee en lees is alles deel van die ontwikkeling van taal.
‘n Groot hoogtepunt in graad 2 is verseker in die derde kwartaal, wanneer ons begin met lopende skrif.
Addisionele taal (Engels): Lees, skryf en praat ontwikkel meer op ‘n uitgebreide vlak en bou op graad 1 se luister-en praatvaardighede uit.
Wiskunde: Vyf inhoudsareas word onderrig: getalle (bewerkings en verwantskappe), patrone (funksies en algebra), ruimte en vorm, meting en datahantering. Daaglikse aktiwiteite soos tel, hoofrekene en skatting vind ook klassikaal plaas.
Lewensvaardigheid: Die leerders word toegerus vir ‘n suksesvolle en betekenisvolle lewe in ‘n veranderde samelewing. Die vak ontwikkel vaardighede, kennis, waardes en houdings. Verskillende temas word reg deur die jaar aangebied en is alles deel van die leerders se ervaringswêreld.
In graad 2 het almal ‘n spesiale plekkie, want elke maat is uniek en daarom is almal WENNERS!
Dit is die heel belangrikste jaar van die grondslagfase omdat dit elke klein leerdertjie se laaste jaar sal wees waar hulle net een juffrou sal hê, en die heeltyd in dieselfde klas sal wees. Graad 3 het baie nuwe uitdagings: soos baie nuwe Wiskundige aspekte en allerhande nuwe taalstrukture waarvan ons die eerste keer gaan leer. Lopende skrif word gebruik in al ons skrifte en in Oktobermaand begin ons met penne skryf. Hier word ons voorberei vir vakonderwys en ons word gereed gemaak om na ‘n nuwe fase van skool oor te gaan. Dis ‘n vol, maar opwindende jaar. Ons almal is dan paraat vir die Intersenfase.
In Laerskool Secunda se ondersteuningsklas word daar deur ‘n speel-speel-benadering elke leerder op sy eie vlak en tyd geleer. Deur die jaar vind baie praktiese lesse plaas soos byvoorbeeld koek bak, sop maak en tafeldek. Elke jaar is daar ‘n Mpumalanga atletiekbyeenkoms, veldskool en elke tweede jaar is daar revue of eistedfodd. Die leerlinge in hierdie klas voel geborge en veilig!
‘n Hoogsgekwalifiseerde en toegewyde personeelkorps lei met entoesiasme, terwyl ‘n goeie balans tussen tradisionele en innoverende onderrigmetodes gehandhaaf word.
Die CAPS-kurrikulum word met sukses geïnkorporeer. Deurlopende assessering stel ons in staat om probleemareas spoedig te identifiseer, te evalueer en effektief aan te spreek. ‘n Intensiewe heronderrigprogram word met vrug aangebied.
Vaardigheidsontwikkeling word holisties benader en die inkorporering van tegnologie, vernuwende denke en ‘n uit-die-boks-aanbiedingstyl getuig hiervan.

Laerskool Secunda is trots Afrikaans! Ons Afrikaanse departement verseker ‘n vakgebied wat van hoogstaande gehalte is.
Alle kursusse en werkswinkels word bygewoon om te verseker dat ons op hoogte is van die nuutste verwikkelinge.
Ontwikkeling van ons leerders se spel- en leesvermoë is vir ons van kardinale belang. ‘n Lees-laboratorium is in plek gestel, waar gr. R – gr. 6 leerders weekliks ‘n addisionele leesperiode het.
Spelkompetisies is ingestel om korrekte spelvaardighede op ‘n speel – speel wyse aan te leer.
Goeie spel- en leesvaardighede vorm die basis grondslag van goeie leervaardighede. By Laerskool Secunda besef ons dat die grondslag reg gelê moet word; die kern moet gesond alvorens doeltreffende leer kan plaasvind.
Die kurrikulum soos bepaal deur die Departement word noukeurig gevolg om te verseker dat ons die leerders 100% bemagtig om hul Hoërskoolloopbaan ook suksesvol te voltooi.
Dit is met trots dat ons kan sê Laerskool Secunda se Afrikaanse vakgebied is van puik gehalte!
Wiskunde is maklik as jou gesindheid reg is. Jou siening moet wees: “Ander het dit reg gekry, waarom nie ek ook nie?”
In Wiskunde word ‘n eie, gespesialiseerde taal gebruik wat simbole en notasies behels om numeriese, meetkundige en grafiese verwantskappe te beskryf. Wiskunde is ’n menslike aktiwiteit wat die volgende behels: waarneming, voorstelling en ondersoek van patrone, en kwantitatiewe verwantskappe in fisiese en sosiale verskynsels, asook tussen Wiskundige voorwerpe self. Deur hierdie proses word nuwe Wiskundige idees en insigte ontwikkel.
In Wiskunde HERHAAL ons tot ons KAN!
Die vak Sosiale Wetenskappe bestaan uit Geskiedenis en Geografie. Beide Geskiedenis en Geografie moet gedurende elke kwartaal van die skooljaar onderrig en geassesseer word. Alhoewel die twee dissiplines apart gehou word, is hierdie kurrikulum ontwerp om die kennis soos uiteengesit in elk aan te vul.
Dit is belangrik in die leer van Geskiedenis en Geografie dat leerders aangemoedig word om vrae te vra: Wie? Waar? Wat? Hoekom nie? Wanneer? Hoe? En teen die tyd dat hulle by die Senior fase kom vrae gevra word soos: Indien …? Kon …? Die vrae wat die leerders aan onderwysers stel, is ‘n goeie aanduiding van voorkennis, persepsies, belange, insigte en bekommernisse.
Wat is Geskiedenis?
Geskiedenis is die studie van verandering en ontwikkeling in die samelewing oor tyd heen. Die studie van Geskiedenis stel mense in staat om te verstaan en te evalueer hoe menslike optrede uit die verlede ‘n impak op die hede kan hê asook die toekoms kan beïnvloed. Geskiedenis is om te leer hoe om op ‘n gedissiplineerde manier oor die verlede, en by implikasie die hede, te dink.
Wat is Geografie?
Geografie is die studie van die menslike en fisiese omgewing. Geografie is ‘n geïntegreerde dissipline wat beide die fisiese en menslike prosesse oor ruimte en tyd ondersoek. Geografie help ons om die komplekse wêreld te verstaan. Dit bied ons ‘n brug tussen die menslike en fisiese wetenskappe.
Language is a tool for thoughts and communication. Learning to use language effectively enables learners to think and acquire knowledge, to express their identity, feelings and ideas to interact with others, and to manage their world.
The aim is to make sure that all the children get opportunities to speak in English. As the children move through the grades the teacher should expect children to speak more and their utterances should become longer.
Reading is very important for children who will be using English as additional language. You may use different methods such as reading independent and reading with the whole class.
The reading process consists of the pre- reading, reading and post reading stages.
Writing is a powerful instrument of communication that allows learners to construct and communicate thoughts and ideas coherently. Writing is important because it forces learners to think about grammar and spelling.
Language structures:
It is expected that language structure and use will be taught in context as other language skills are taught and developed. The teaching plans contain a list of language items that should be covered in each grade.
We have a well-stocked library which the learners use on a daily basis. We aim that every learner reads a story book every month.
Language is a tool for thought and communications. Children cannot excel at MATHEMATICS AND SCIENCE if they cannot READ.
Leerders word toegerus met kennis, vaardighede en waardes wat benodig word om hulle volle potensiaal te bereik ten opsigte van fisiese- , intellektuele-, persoonlike-, emosionele- en sosiale ontwikkeling. Die vak moedig leerders aan om lewensvaardighede aan te kweek en te beoefen.
Die doel van die vak is om leerders te ontwikkel daar middel van 3 verskillende maar verwagte studievelde naamlik: Persoonlike en Sosiale Welsyn, Liggaamlike Opvoeding en Skeppende Kunste.
Wetenskap is ‘n sistematiese manier van soek vir verduidelikings en aaneenskakeling van idees wat ons het. In Wetenskap word sekere metodes van navraag gedoen en ondersoek ingestel. Met die formulering van ‘n hipotese word die ontwerp en uitvoer van eksperimente, ondersoeke wat onderneem word en metodes wat gebruik word, noukeurig ondersoek en gedebateer voordat dit as geldig aanvaar word.
Tegnologie word regdeur die geskiedenis aangetref. Mense het ‘n kombinasie van kennis, vaardighede en beskikbare hulpbronne gebruik om oplossings te ontwikkel wat aan hul daaglikse behoeftes en begeertes voldoen.
Dit is gerig om leerders geleenthede te bied vir die saamstel van idees wat hulle het oor die natuur sodat hulle daarvan kan sin maak.
Ons skep ‘n wetenskaplike atmosfeer in ons klasse en die keuse van die inhoud gee ons geleentheid om ‘n wye verskeidenheid van onderrigmetodes te leer en te gebruik. Ons gebruik Wetenskap en Tegnologie aktiwiteite wat genot, nuuskierigheid en kreatiwiteit aanwakker en ‘n bydrae lewer tot sosiale- en gemeenskapsontwikkeling. Verskeie ontwerpvaardighede word gebruik byvoorbeeld, toegang tot en herroep van inligting; waarneming, vergelyking, meet, sortering en klassifisering; voorspellings; beplanning en uitvoer van ondersoeke; aantekening en interpretasie van inligting; ontwerp en bou van modelle en die evaluering en verbetering van produkte.
In ons Wetenskap- / Tegnologieklas word daar gereeld van die leerders verwag om inligting van relatiewe onderwerpe te versamel en dan wetenskaplike afleidings en gevolge te maak en oor te dra. In hierdie geval bied ons by Laerskool Secunda vir die kinders die geleentheid om deel te neem aan ons jaarlikse Wetenskap ekspo.
Ons skool het ‘n pragtige rekord van puik prestasies by die ekspo. Ons probeer soveel as moontlik leerders die geleentheid gee om te gaan deelneem. Besoek gerus die skakel vir meer inligting: http://www.sciencexpo.org.za.
Die sukses van ‘n onderwysprogram word grootliks bepaal deur die doeltreffendheid van die vakorganisasie. Die doelstelling in die vak tegnologie is:
Die onderrig van TEGNOLOGIE word in die verskillende sillabusse vir die verskillende fases duidelik uiteengesit.
Die uitvoerende kunste sluit beweging, sang en toneelspel in. Die leerder ontdek dat jy ‘n boodskap kan oordra of mense vermaak, deur jou liggaam, stem of ‘n musiekinstrument te gebruik.
Lesse sluit in:
Hierdie is ‘n omvattende leerarea wat op ‘n kreatiewe wyse aangebied word.
Ekonomiese Bestuurs Wetenskap se afkorting is EBW. Hierdie akroniem staan ook vir Ekstra Belangrike Werk, want hier leer u kind van geldsake!
Kwartaal 1 begin met ‘n opwindende reis deur die geskiedenis van geld. Hulle leer van behoeftes en begeertes, goedere, dienste en besighede.
In Kwartaal 2 word daar geleer hoe om boek te hou van jou geld. U kind gaan van Rekeningkunde-begrippe leer soos inkomste en uitgawes, wins en verlies, nettowaardestaat en begrotings.
Kwartaal 3 is ‘n ligpunt in elke graad 7 se lewe! Hulle leer wat is ‘n entrepreneur en hoe om ‘n besigheid te begin.
Die gr 7’s hou dan ook ‘n Entrepreneursdag waar hulle dan alles wat hulle die eerste twee kwartale geleer het, praktise kan toepas.
Kwartaal 4 sluit af met die temas-produksieproses en spaargeld.